20070128

Lui telefoon, lui lui!

Die geloei van 'n selfoon moet altyd beantwoord word. Hoeveel keer het jy al iemand gebel wat in 'n fluisterstem antwoord: 'Ek kan nie nou praat nie, ek's in 'n vergadering/besig om te trou/in 'n restaurant/by die haarkapper'?

Weet mense nie van stempos nie?

Telefoon-bemarkers buit hierdie swakheid in ons uit. Hulle weet jy sal antwoord. En hulle weet meeste van ons is te ordentlik om net die foon weer in hulle ore neer te smyt. So wanneer hulle begin met hulle storie, kan hulle jou lekker in hulle valstrikke inlei. Soos 'n lammertjie ter slagting.

In Julie vanjaar bring die regering sekere veranderinge aan in die wette wat die krediet-industrie reguleer. Dit beteken groot maatskappye het nog net 'n stuk of ses maande om soveel rente as moontlik uit jou te druk. So jou foon gaan lui asof daar geen môre is nie.

Tydig en ontydig sal jy die opgewekte stem van 'n bemarker hoor wat 'namens' 'n bank, kleinhandelaar of ander korporasie bel. Nie om net hello te sê nie. Nie omdat hulle geïnspireerd, betrokke en gemotiveerd is nie - nee, omdat hulle nog net ses maande het om soveel as moontlik van jou geldjies in hulle skatkisse in te laat sypel.

Dus, as die vriend van die man in die straat, bied Uit die Brein van Jacob Olsen (U.D.B.V.J.O.) 'n gemeenskapsdiens aan vandag deur drie metodes om telefoonbemarkers op hulle neuse te laat kyk sonder om jou Calvinistiese beginsels te verkrag:

Die Gewillige Koper - variasie 1

Sodra die bemarker begin met sy teks laat jy hom loop tot hy by die ding uitkom wat hy verkoop. Jy het hierdie stukkie inligting nodig om terug te slaan.

Dan maak jy asof jy nie jou geluk kan glo dat die kêrel gebel het nie. Jy sê: 'My wêreld, Neef, jy bel asof jy gestuur is. Ek sit nou net hier en dink hoe graag ek die nuwe XXX-kredietkaart van YYY Bank wil hê. Laat ek net 'n pen en papier gryp want ek wil alles neerskryf wat jy sê."

Die arme vent kan natuurlik dan nie sy geluk glo nie. Die hele dag word hy aangesê om te boggerof en hier is iemand wat bly is om sy blye boodskap van die krediet-hemel te hoor. Hy wag dat jy papier en pen bymekaarskraap. En dis hier waar jy terugslaan. Jy laat hom wag. En wag. En wag en wag en wag en wag.

Om die waarheid te sê, jy kan 'n interessante eksperiment van stapel stuur waar jy kyk watse bank se bellers die lankste sal vasbyt.

So doen jy natuurlik jou medemens 'n groot guns want hoe langer jy die beller uit aksie hou, hoe minder kan hy iemand anders pla. As ons almal ons deel doen, kan ons moontlik die ganse telefoon-bemarkingsbedryf vernietig.

Die Gewillige Koper - variasie 2

Hier volg jy dieselfde paadjie, met een verskil. Wanneer jy hom vertel hoe graag jy sy kredietkaart wil hê, dan vra jy of jy hóm kan terugbel op 'n ietwat meer geleë tyd. Dring aan om sy selfoon-nommer te kry.

Dis gewoonlik die laaste sien van die blik-kantien.

Die Brixton Moord-en-Roof Metode

As jy jou lag kan hou, kan jy hierdie kêrel se voorbeeld volg.

Het jy ander gunsteling metodes om telefoon-bemarkers af te skrik? Deel dit met ander lesers deur dit aan te stuur na mr.jacob.olsen@gmail.com.

Ex unitate vires. Saam kan ons die luise 'n les leer.

20070123

Die ys in Skandinawie

Ek het 'n fantastiese masjien ontdek wat die snikhete Kaapse somers hokslaan. Hulle noem dit 'n Boeing 747. Jy klim in en 12 ure later, klim jy uit - en dis 30 grade Celcius koeler as was dit was toe jy ingeklim het.

Ja, ek was vir 'n woerts-warts in Skandinawië. Vir Swedo-Afrikaners soos myself, kom familie soms eerste - en ek moes dit bewys. So tussen die lughawens, die treine en taxi's deur is U.D.B.V.J.O. (Uit Die Brein van Jacob Olsen) dus erg afgeskeep.

My Euro-Afrikaanse gene se geheue het my herinner dat dit gewoonlik kouer is dié tyd van die jaar in Europa. Oppad terug het ek Al Gore se dokumentêre rolprent An Inconvenient Truth gekyk wat verduidelik hoe ons gaan doodbraai in die koolsuurgasse. Dis 'n jammerte dié kêrel het in 2000 so verloor, want die Republikeine se man in die Wit Huis gee duidelik nie 'n flenter om vir wat in die natuur aan die gang is nie.

Ja, al wat 'n vent is word nou aangeraai om sy koolstof-voetafdruk te bereken. Volgens slim sommetjies kan jou vliegtuigritte, jou selfoonbattery-laaier en jou kar als bydra tot jou koolstof-uitsetting.

Dis slegte nuus vir openbare figure. Hiervolgens gaan Tony Blair se vakansies in Miami minder word. Dink net, om hom, Cherie en die Blair-jongspan in Miami te kry kan dalk net die strooi-halm wees wat die groenhuisgas-kameel se rug sal breek. Selfs Prins Karel van Wallis, die troonopvolger van Groterige Brittanje se afvaardiging van 20 wat hom gaan vergesel om 'n omgewings-prys in Noord-Amerika te ontvang het ook nuusdekking ontvang.

Ek wil nie eers begin om Sy Edele, President Thabo Mbeki se koolstof-uitsetting te bereken nie, want ek dink dit sal 'n vreeslike syfer wees om te bekyk. En as die D.B.V. klaar is met Sy Edele, die voormalige hoof-sweep van die Afrikaanse Nasionale Kongres, Doktor Tony Yengeni oor sy bulslagtery kan ons begin om sy gal te werk met die hoeveelheid koolstof wat sy 4x4's uitstoot. Miskien is dit dus beter dat hy nou tegnies onder huis-arres is, want dan hoef Mevrou Yengeni nou nie elke dag Malmesbury toe te ry vir die konjugale besoeke nie.

Gelukkig het niemand nog iets gesê van U.D.B.V.J.O. se koolstof-uitsetting nie. Terwyl roem my ontwyk, sal ek nog lekker lank die Euro in Euro-Afrikaner wees.

20070106

U.D.B.V.J.O. meta-nuus #01

Meta-nuus is soos masturbasie. Dit gaan alles oor jouself, maar uiteindelik gee net jy om.

Ek het 'n paar lesers gekry wat my gevra het hoe gereeld ek hier gaan skryf. Die antwoord is een maal per week. Gewoonlik, teen Sondag, behoort jy 'n nuwe vruggie uit my brein hier te siene kry.

Tweedens, ek het dit nou makliker gemaak om in te teken op U.D.B.V.J.O. Kliek op hierdie RSS-ikoon ding op die regterkant en jy sal weggeblits word, gratis en veniet, na die wêreld van Feedburner.com toe. Maak nie saak watse leser jy gebruik om jou gunsteling blogs en aanlyn-koerante te lees nie, hierdie slim-Feedburner lyn sal werk in jou leser.

En as jy nou nog nie weet van RSS en Atom en die klas van ding nie, behoort jy nou wakker te word, Rip.

Die Britse Uitsaaikorporasie het 'n lekker handige handleiding wat jou uit die donker eeue sal lei.

Sien julle môre.