20061231

Einde van die band

Die video-kameraman het senuweeagtig in die vertrek rondgestaan. Die plek gee hom die horries.

Hy wens hy kon meer trou-videos doen, soos sy vriend Tariq van die filmskool.

Die paar minute voor die res inkom, het hy bietjie kans om sy skote te beplan. Soos sy gewoonte is, oorweeg hy eerstens die belangrikheid van die storie. Waar wil die kyker wees om te snap wat aangaan? Wat is die belangrikste oomblikke? Hoe kan die lig in sy guns werk om atmosfeer te skep?

Uiteindelik voel hy tevrede met sy voorbereidings. Mouwafak, bekend as Mou aan sy vriende, neem sy werk baie ernstig op.

Mans begin nou in die sement-vertrek inkom. Meeste van hulle het ski-maskers op - wat Mou se werk moeiliker maak. As ‘n film-maker wil hy die storie vertel deur van die emosie op die gesig gebruik te maak.

Die enigste een wat nie ‘n masker op het nie, is die ou man in die swart jas. Dis koel vanmôre en Mou wonder of die jas hom moet warm hou, dat hy nie ‘n koue vang nie.

Mou begin die tonele verfilm. Deur die oog-stuk van die kamera let hy meesal die oë van die ou man op. Sulke sagte bokkie-oë, sou sy ouma gesê het.

Hy verhoed die kunstenaar in homself om ‘n nabyskoot van die oë die te neem. Dit sal te veel empatie vir die veroordeelde skep. Mou bly by opdrag. Hy moet dokumenteer. Nié interpreteer nie.

Die ou man prewel ‘n paar stellings terwyl ‘n dik tou oor sy nek gegooi word.

Mou hou die kamera stil, vang die storie vas, gefokus op die bokkie-oë van die diktator aan wie se hand soveel hulle Maker gaan ontmoet het.

Uit die hoek van sy oog, sien Mou skielik iets flits wat hom ontstem. ‘n Rooi kasset-simbool met ‘n streep deur.

Toe die valdeur oopmaak en Saddam se nek breek, het die band reeds gestop.

Saddam had geen opinie oor SA

Saddam Hoessein, oudpresident van Irak, het gister, kort voor ligdag, die tydige met die ewige verwissel vanweë ‘n ernstige besering aan die nek.

Dit blyk die oorledene het verstrengel geraak aan ‘n dik tou nadat ‘n valdeur onder hom oopgeval het.

Volgens ooggetuies het hy die geleentheid kort voor sy dood aangegryp om filosofies om te gaan met van die knellende kwessies in wêreld-politiek.

Hy het aangevoer dat Palestina Arabies is en dat die Nasie (Irak) sal triomfeer.

In teenstelling, het hy geen mening gewaag oor die Afrikaansheid van Orania nie. Dit is ook opvallend dat mnr. Hoessein geen voorspellings gewaag het rakende die opkomende ANC-presidentsverkiesing middel volgende jaar nie.

Saddam word oorleef deur 'n land in puin.

20061227

Die Kou-aksie van Graeme Smith

U.D.B.V.J.O. (Uit die Brein van Jacob Olsen) kan vandag eksklusief onthul dat die ware rede hoekom Proteas-kaptein, Graeme Smith, so sukkel met die kolf, sy vieslike kou-aksie is.

Dis nie sy selfvertroue nie. Mens herinner jou maar net aan daardie lewensversekering reklame-flits waarin Smith ons vertel het dat mense gesê het hy is te jonk. Die advertensie het nie onthul of die mense reg was of nie, want dit was maar net toe hy die kaptein geword het, maar enigiemand wat so voor die kameras kon praat sal nooit sukkel met selfvertroue nie.

Dis ook nie die Minki-vormige gat in die beleërde Ou Beer se hart nie.

Dis die gekou.

Terwyl die rooibal salig kan rus in die wete dat Smith se wilgerlat nie oor sy sagte leerboudjies sal vee nie, leef elke Beechie in die kaptein se broeksak in vrees en bewing.

In die meer obskure annale van die antropologie, is verskeie kougom-aksies opgeteken.

Daar is die standaard Op-En-Af, waar die kouer se kake in elegante en ritmiese bewegings kou.

Die Roller, ‘n meer ingewikkelde metode waar die gompie gedurig platgekou word en dan deur die tong rondgerol word om ‘n perfekte sfeer te vorm.

Mens sien ook die Borrelblaser, maar om eerlik te wees, meeste volwasse kouers skud die metode af iewers gedurende puberteit.

En dan is daar die gevreesde Koei. Net die mees ervare kougom-kouers kan die Koei inspan om die geur uit hulle gomme te trek. Met dié metode kan die kouer ‘n amper bo-menslike en ja, boviaanse laterale aksie met die kake uitvoer. Die resultaat is meer geur vir die kouer, maar omstanders kan soms natreën.

Dis raar om kouers te sien wat die Op-En-Af en die Koei kan kombineer. Een uit ‘n miljoen, miskien. Maar om ‘n kouer te sien wat sewe ure ‘n dag op internasionale televisie dit kan regkry, is regtig ‘n besondere verskynsel. Miskien is juis so statistiese onmoontlikheid waaraan die Ou Sjinese orakel gedink het - toe hy die vloek ‘Mag jy in interessante tye leef’ uitgespreek het.

Die probleem is nie net vir die kykers nie. ‘n Breinspesialis van Kaapstad, wat om professionele redes nie sy naam genoem wil hê nie, het aan U.D.B.V.J.O. gesê dat soveel van Smith se breinkrag ingespan word in die taak om met die gompies klaar te speel, dat sy kolf-vermoë agter in die ry moet gaan staan.

‘n Bron wat 'n oor aan die keurkomitee-vergadersaal se loergat het, het ‘n voëltjie hoor fluit dat die gomme al deur die komitee bespreek is, maar dat Smith maar self moet besluit of hy tegelykertyd kan kou, kapteinwees en kolf.

Die volk wag in spanning.

Nuwe! Verbeterde! Varkpos

Op die Afro-Belgiese blog, Afrikaans.be, kan mens ‘n lys van humoristiese Afrikaanse komperterme bekyk. Ek nog nooit regtig vatkry aan meeste Afrikaanse tegno-neologismes nie.

Soos webwerf. Sies. Of aandrywer vir drive. Poef.

Die één Afrikaanse rekenaarterm wat die ding beter beskryf as sy Engelse eweknie is ‘varkpos’, vir spam. Niemand hou daarvan om dit te kry nie en ek dink ook nie diegene wat dit oor hulle harte kan kry om dit te skryf, hou van hoe hulle voel as hulle in die bed klim na ‘n werksdag en dan hulle kombersies optrek na hulle kennebakkies toe nie.

Varkpos is ‘n goeie woord.

Gepraat van varkpos skryf. Dit smaak my dis nie kinderspeletjies nie. Jy moet lang ure werk en sommer regdeur Krismis ook. Selfs al het die kersgety gekom en gegaan, kreun my ou eposbussie soos ‘n Toyota Hi-Ace op ‘n Vrydagmiddag. Volgelaai met penis-verlengings biljette, ‘egte’ Rolex-advertensies en die pleitstemme in die 419-briewe.

Die dan dat dit vir my lyk asof die gehalte van die varkpos begin daal. Van die goed wat in my eposbus lê, het nie eers wat die reklame-mense ‘n ‘call-to-action’ in nie. Geen ding wat jy op kan kliek nie om nou te laat weet jy stel belang om een of ander Vietnamese pil te probeer wat jou in ‘n hings gaan verander nie.

Hoe frustrerend is dit? Jy kry hope pos wat jy nie wil hê nie én jy kan niks daarmee doen nie. Nou moet ek net vinnig byvoeg dat ek nie regtig ‘n pil nodig het om my proporsies te verander nie.

Dus, as niks help om die stroom varkpos te keer nie, is dit seker nie te veel gevra dat varkposskrywers bietjie adel in hulle arbeid sal kry nie? Kom, kêrels, bors uit, maag in en sit skouers aan die wiel. Skryf beter varkpos, want dan hou julle jul joppies en die mense koop julle hingspille en plastiek Rolexxe en word doktors en professors binne twee weke. Dan is almal mos nou gelukkig.

Om te help, het ek so paar nederige voorstelle wat varkposskrywers kan help om hulle produk te verbeter:

1. Luister bietjie populêre Afrikaanse musiek. Julle sal sien dat om niksseggende refreins te gebruik soos ‘ghoemba-ja’ sal jou reg tot in die hart van die Afrikaner lei.

2. Julle 419-manne, lees bietjie die plaaslike koerante en gebruik van ons plaaslike helde wat tydelik en diskreet groot hoeveelhede geld in mens se Absa-spaarrekening sal wil stoor. Soos G. AGLIOTTI; J. SELEBI ens.

3. Skets scenarios om dronkenskap, flatulensie en rugby om te verkoop wat jy moet verkoop. Voorwaar, dis ‘n wenresep.

4. Maak stellings oor sake van nasionale belang. Soos die stand van Springbok-rugby. Of wie op die oomblik met Minki van der Westhuizen gekys is.

5. Vloek. Dis vir ons mense snaaks.

Sterkte, julle. Lekker werk. Ek hou my posbus dop.

20061225

Doktor Dan en die drogbeelde van 2011

Blerrie Mevrou Olsen.

Ek lê hier op my bed, natgesweet en vibreer, my maag in spasma ná haar tradisionele Sweedse Oukersete. Die smorgasbord van julskinka, ham, ingelegde varkpootjies, lutfisk en die 35 grade celcius hitte het my die tradisionele krismispens besorg.

Die ergste is die drogbeelde wat in my brein vorm tydens die krampe. Die koors wys vir my vreeslikste visies van Kersfees in 2011.

Sy Edele, President Dan Roodt van die Republiek van Dainfern, ‘n kanton net noord van Fourways, Egoli, het pas gefaal om ‘n staatsgreep uit te voer op sy buurland, Suid-Afrika. Dít, ten spyte van die feit dat Dainfern oor die mees gesofistikeerde weermag op die kontinent beskik.

Knus tussen die silwerpyp wat Johannesburg se riool weglei na die noorde en die stof-, son-, en sinklandskap van Diepsloot, lê die manjifieke Dainfern. Dit is hier waar Doktor Dan hom etlike jare gelede gevestig het - as mens die adresse op al sy ywerige skrywes na die briewe-kolomme van elke denkbare koerant kon glo.

Dan Roodt. Vir ewig vasgevang in die swart-en-wit beeld van die Franse intellektueel wat nadenkend teen ‘n boekrak leun - ‘n bos grys hare woes gekam oor sy blas voorkop, met ‘n besondere voorliefde vir Fedora hoede en die beste Europese snyerspakke.

Sproeiers hou die gholfbaan en tuine, wat tussendeur ‘n duisend of so kasarms kronkel, groen. Dié paleise, wat dit laat lyk asof die Toskaanse god van argitektuur sy middagete oor die gholfbaan verloor het, vorm die pragbuurt wat in my droom onafhanklikheid verkry het ná President Roodt besef het dat die Afrikaners nooit hulle Gatstamp Treffers en Outoppie-Sokkie CDs gaan afskakel en bier oor die braaivleisvuur gooi om te luister na sy stem wat uit die woestyn roep nie. In stede om hom te bekamp vir ‘n boerestaat, het hy sy energie agter ‘n dollarstaat ingegooi. En so is Die Republiek van Dainfern gebore, waar almal 'n paspoort kan kry, solank jy hom kan bekostig.

Die rede vir die mislukte poging: toe hy die staatsgreep aankondig op sy podcast genaamd ‘Die Praagvader’, was almal óf in Plett, óf in die Woolies besig om vuis te slaan oor die laaste blikkie room vir die koekstruif. Dis jammer, want sy toespraak was wonderlik. Hy het bykans elke wysgeer van die Franse revolusie klakkeloos aangehaal en sou mens daarna geluister het, sou jy gedink het hy is baie slim. Amper soos almal wat in my standerd vyf klas gedink het Chamonix de Lange slim was, omdat sy al die idiome in die Afrikaanse handboek soos ‘n papegaai kon opsê.

Boonop het die Dainfern-weermag se pantserwaens, tenks en kanonne wat opgeruk het na die Unie-gebou, vasgebrand in ‘n verkeersknoop op die hoek van William Nicol en die N1 - ‘n knoop wat al twee jaar duur. (Net mini-bus taxi bestuurders weet hoe om uit dié knoop los te wikkel - wat ‘n verleentheid vir die Dainfern-regering is aangesien hulle reeds in 2005 aangekondig het dat swart Afrikane geneties ondergeskik is aan Europeërs.)

Terwyl die maagkrampe en die koors my vir ‘n oomblik met rus laat, sien ek in die laaste drogbeelde hoe Dainfern se magte terugtrek, hulle leier verneder soos die aand, einde 2006 toe Heindrich Wyngaard in die program ‘Wat’s die Storie’ kringe om hom gehardloop het.

Vir ‘n kort oomblik voel ek jammer vir Doktor Dan en wens ek hom die vrede en welwillendheid van die Feestyd toe.

En vir jou en jou naaste ook.

20061223

Skakel in by Jacob Olsen

Maestro, die tromrol asseblief.

Dankie.

Dames en here, Jacob Olsen Teksprodukte Eiendoms Beperk, met die vriendelike samewerking van die Bronkhorstspruitse Sweedse Masseurklub, die Tranvaalse Vroue Landbou Unie, die Hoenderbond en die Afrikaanse Nasionale Kongres (‘n Beter Lewe vir Almal, geregistreerde handelsmerk), bied aan, in ko-produksie met Skiet-’n-Kat Produksies en Blesbok Radio, in die 16 miljoen kleure van die reënboog:

Uit die Brein van Jacob Olsen.

Maestro, simbaal!

Dankie.

Vriende, skakel in op hierdie golflengte deur die wonderwerk van RSS of boekmerk hierdie bladsy: http://jacob-olsen.blogspot.com en laat jou vriende weet as jy regtig ‘n vriend is.

Jy sal so bly wees jy het.