20061227

Nuwe! Verbeterde! Varkpos

Op die Afro-Belgiese blog, Afrikaans.be, kan mens ‘n lys van humoristiese Afrikaanse komperterme bekyk. Ek nog nooit regtig vatkry aan meeste Afrikaanse tegno-neologismes nie.

Soos webwerf. Sies. Of aandrywer vir drive. Poef.

Die één Afrikaanse rekenaarterm wat die ding beter beskryf as sy Engelse eweknie is ‘varkpos’, vir spam. Niemand hou daarvan om dit te kry nie en ek dink ook nie diegene wat dit oor hulle harte kan kry om dit te skryf, hou van hoe hulle voel as hulle in die bed klim na ‘n werksdag en dan hulle kombersies optrek na hulle kennebakkies toe nie.

Varkpos is ‘n goeie woord.

Gepraat van varkpos skryf. Dit smaak my dis nie kinderspeletjies nie. Jy moet lang ure werk en sommer regdeur Krismis ook. Selfs al het die kersgety gekom en gegaan, kreun my ou eposbussie soos ‘n Toyota Hi-Ace op ‘n Vrydagmiddag. Volgelaai met penis-verlengings biljette, ‘egte’ Rolex-advertensies en die pleitstemme in die 419-briewe.

Die dan dat dit vir my lyk asof die gehalte van die varkpos begin daal. Van die goed wat in my eposbus lê, het nie eers wat die reklame-mense ‘n ‘call-to-action’ in nie. Geen ding wat jy op kan kliek nie om nou te laat weet jy stel belang om een of ander Vietnamese pil te probeer wat jou in ‘n hings gaan verander nie.

Hoe frustrerend is dit? Jy kry hope pos wat jy nie wil hê nie én jy kan niks daarmee doen nie. Nou moet ek net vinnig byvoeg dat ek nie regtig ‘n pil nodig het om my proporsies te verander nie.

Dus, as niks help om die stroom varkpos te keer nie, is dit seker nie te veel gevra dat varkposskrywers bietjie adel in hulle arbeid sal kry nie? Kom, kêrels, bors uit, maag in en sit skouers aan die wiel. Skryf beter varkpos, want dan hou julle jul joppies en die mense koop julle hingspille en plastiek Rolexxe en word doktors en professors binne twee weke. Dan is almal mos nou gelukkig.

Om te help, het ek so paar nederige voorstelle wat varkposskrywers kan help om hulle produk te verbeter:

1. Luister bietjie populêre Afrikaanse musiek. Julle sal sien dat om niksseggende refreins te gebruik soos ‘ghoemba-ja’ sal jou reg tot in die hart van die Afrikaner lei.

2. Julle 419-manne, lees bietjie die plaaslike koerante en gebruik van ons plaaslike helde wat tydelik en diskreet groot hoeveelhede geld in mens se Absa-spaarrekening sal wil stoor. Soos G. AGLIOTTI; J. SELEBI ens.

3. Skets scenarios om dronkenskap, flatulensie en rugby om te verkoop wat jy moet verkoop. Voorwaar, dis ‘n wenresep.

4. Maak stellings oor sake van nasionale belang. Soos die stand van Springbok-rugby. Of wie op die oomblik met Minki van der Westhuizen gekys is.

5. Vloek. Dis vir ons mense snaaks.

Sterkte, julle. Lekker werk. Ek hou my posbus dop.