20061225

Doktor Dan en die drogbeelde van 2011

Blerrie Mevrou Olsen.

Ek lê hier op my bed, natgesweet en vibreer, my maag in spasma ná haar tradisionele Sweedse Oukersete. Die smorgasbord van julskinka, ham, ingelegde varkpootjies, lutfisk en die 35 grade celcius hitte het my die tradisionele krismispens besorg.

Die ergste is die drogbeelde wat in my brein vorm tydens die krampe. Die koors wys vir my vreeslikste visies van Kersfees in 2011.

Sy Edele, President Dan Roodt van die Republiek van Dainfern, ‘n kanton net noord van Fourways, Egoli, het pas gefaal om ‘n staatsgreep uit te voer op sy buurland, Suid-Afrika. Dít, ten spyte van die feit dat Dainfern oor die mees gesofistikeerde weermag op die kontinent beskik.

Knus tussen die silwerpyp wat Johannesburg se riool weglei na die noorde en die stof-, son-, en sinklandskap van Diepsloot, lê die manjifieke Dainfern. Dit is hier waar Doktor Dan hom etlike jare gelede gevestig het - as mens die adresse op al sy ywerige skrywes na die briewe-kolomme van elke denkbare koerant kon glo.

Dan Roodt. Vir ewig vasgevang in die swart-en-wit beeld van die Franse intellektueel wat nadenkend teen ‘n boekrak leun - ‘n bos grys hare woes gekam oor sy blas voorkop, met ‘n besondere voorliefde vir Fedora hoede en die beste Europese snyerspakke.

Sproeiers hou die gholfbaan en tuine, wat tussendeur ‘n duisend of so kasarms kronkel, groen. Dié paleise, wat dit laat lyk asof die Toskaanse god van argitektuur sy middagete oor die gholfbaan verloor het, vorm die pragbuurt wat in my droom onafhanklikheid verkry het ná President Roodt besef het dat die Afrikaners nooit hulle Gatstamp Treffers en Outoppie-Sokkie CDs gaan afskakel en bier oor die braaivleisvuur gooi om te luister na sy stem wat uit die woestyn roep nie. In stede om hom te bekamp vir ‘n boerestaat, het hy sy energie agter ‘n dollarstaat ingegooi. En so is Die Republiek van Dainfern gebore, waar almal 'n paspoort kan kry, solank jy hom kan bekostig.

Die rede vir die mislukte poging: toe hy die staatsgreep aankondig op sy podcast genaamd ‘Die Praagvader’, was almal óf in Plett, óf in die Woolies besig om vuis te slaan oor die laaste blikkie room vir die koekstruif. Dis jammer, want sy toespraak was wonderlik. Hy het bykans elke wysgeer van die Franse revolusie klakkeloos aangehaal en sou mens daarna geluister het, sou jy gedink het hy is baie slim. Amper soos almal wat in my standerd vyf klas gedink het Chamonix de Lange slim was, omdat sy al die idiome in die Afrikaanse handboek soos ‘n papegaai kon opsê.

Boonop het die Dainfern-weermag se pantserwaens, tenks en kanonne wat opgeruk het na die Unie-gebou, vasgebrand in ‘n verkeersknoop op die hoek van William Nicol en die N1 - ‘n knoop wat al twee jaar duur. (Net mini-bus taxi bestuurders weet hoe om uit dié knoop los te wikkel - wat ‘n verleentheid vir die Dainfern-regering is aangesien hulle reeds in 2005 aangekondig het dat swart Afrikane geneties ondergeskik is aan Europeërs.)

Terwyl die maagkrampe en die koors my vir ‘n oomblik met rus laat, sien ek in die laaste drogbeelde hoe Dainfern se magte terugtrek, hulle leier verneder soos die aand, einde 2006 toe Heindrich Wyngaard in die program ‘Wat’s die Storie’ kringe om hom gehardloop het.

Vir ‘n kort oomblik voel ek jammer vir Doktor Dan en wens ek hom die vrede en welwillendheid van die Feestyd toe.

En vir jou en jou naaste ook.