20061227

Die Kou-aksie van Graeme Smith

U.D.B.V.J.O. (Uit die Brein van Jacob Olsen) kan vandag eksklusief onthul dat die ware rede hoekom Proteas-kaptein, Graeme Smith, so sukkel met die kolf, sy vieslike kou-aksie is.

Dis nie sy selfvertroue nie. Mens herinner jou maar net aan daardie lewensversekering reklame-flits waarin Smith ons vertel het dat mense gesê het hy is te jonk. Die advertensie het nie onthul of die mense reg was of nie, want dit was maar net toe hy die kaptein geword het, maar enigiemand wat so voor die kameras kon praat sal nooit sukkel met selfvertroue nie.

Dis ook nie die Minki-vormige gat in die beleërde Ou Beer se hart nie.

Dis die gekou.

Terwyl die rooibal salig kan rus in die wete dat Smith se wilgerlat nie oor sy sagte leerboudjies sal vee nie, leef elke Beechie in die kaptein se broeksak in vrees en bewing.

In die meer obskure annale van die antropologie, is verskeie kougom-aksies opgeteken.

Daar is die standaard Op-En-Af, waar die kouer se kake in elegante en ritmiese bewegings kou.

Die Roller, ‘n meer ingewikkelde metode waar die gompie gedurig platgekou word en dan deur die tong rondgerol word om ‘n perfekte sfeer te vorm.

Mens sien ook die Borrelblaser, maar om eerlik te wees, meeste volwasse kouers skud die metode af iewers gedurende puberteit.

En dan is daar die gevreesde Koei. Net die mees ervare kougom-kouers kan die Koei inspan om die geur uit hulle gomme te trek. Met dié metode kan die kouer ‘n amper bo-menslike en ja, boviaanse laterale aksie met die kake uitvoer. Die resultaat is meer geur vir die kouer, maar omstanders kan soms natreën.

Dis raar om kouers te sien wat die Op-En-Af en die Koei kan kombineer. Een uit ‘n miljoen, miskien. Maar om ‘n kouer te sien wat sewe ure ‘n dag op internasionale televisie dit kan regkry, is regtig ‘n besondere verskynsel. Miskien is juis so statistiese onmoontlikheid waaraan die Ou Sjinese orakel gedink het - toe hy die vloek ‘Mag jy in interessante tye leef’ uitgespreek het.

Die probleem is nie net vir die kykers nie. ‘n Breinspesialis van Kaapstad, wat om professionele redes nie sy naam genoem wil hê nie, het aan U.D.B.V.J.O. gesê dat soveel van Smith se breinkrag ingespan word in die taak om met die gompies klaar te speel, dat sy kolf-vermoë agter in die ry moet gaan staan.

‘n Bron wat 'n oor aan die keurkomitee-vergadersaal se loergat het, het ‘n voëltjie hoor fluit dat die gomme al deur die komitee bespreek is, maar dat Smith maar self moet besluit of hy tegelykertyd kan kou, kapteinwees en kolf.

Die volk wag in spanning.