20061231

Einde van die band

Die video-kameraman het senuweeagtig in die vertrek rondgestaan. Die plek gee hom die horries.

Hy wens hy kon meer trou-videos doen, soos sy vriend Tariq van die filmskool.

Die paar minute voor die res inkom, het hy bietjie kans om sy skote te beplan. Soos sy gewoonte is, oorweeg hy eerstens die belangrikheid van die storie. Waar wil die kyker wees om te snap wat aangaan? Wat is die belangrikste oomblikke? Hoe kan die lig in sy guns werk om atmosfeer te skep?

Uiteindelik voel hy tevrede met sy voorbereidings. Mouwafak, bekend as Mou aan sy vriende, neem sy werk baie ernstig op.

Mans begin nou in die sement-vertrek inkom. Meeste van hulle het ski-maskers op - wat Mou se werk moeiliker maak. As ‘n film-maker wil hy die storie vertel deur van die emosie op die gesig gebruik te maak.

Die enigste een wat nie ‘n masker op het nie, is die ou man in die swart jas. Dis koel vanmôre en Mou wonder of die jas hom moet warm hou, dat hy nie ‘n koue vang nie.

Mou begin die tonele verfilm. Deur die oog-stuk van die kamera let hy meesal die oë van die ou man op. Sulke sagte bokkie-oë, sou sy ouma gesê het.

Hy verhoed die kunstenaar in homself om ‘n nabyskoot van die oë die te neem. Dit sal te veel empatie vir die veroordeelde skep. Mou bly by opdrag. Hy moet dokumenteer. Nié interpreteer nie.

Die ou man prewel ‘n paar stellings terwyl ‘n dik tou oor sy nek gegooi word.

Mou hou die kamera stil, vang die storie vas, gefokus op die bokkie-oë van die diktator aan wie se hand soveel hulle Maker gaan ontmoet het.

Uit die hoek van sy oog, sien Mou skielik iets flits wat hom ontstem. ‘n Rooi kasset-simbool met ‘n streep deur.

Toe die valdeur oopmaak en Saddam se nek breek, het die band reeds gestop.